Jy betaal dalk vir die elektrisiteit wat jy nie nodig het nie

Op die roete om selfstandig in elektrisiteitvoorsiening te word is dit nodig om te weet wat kos elektrisiteit jou. So laai ek toe Eskom se Tariefboek vir 2017/2018 af. ‘n Hele 54 bladsy stuk inligting met Eskom se verskillende tariewe. Dan sluit dit ook nie die verskillende tariewe van elektrisiteits-verspreiders soos stadsrade in nie. Hoe maak die verbruiker of gebruiker sin uit hierdie klomp inligting?

Verbruikers het verskillende behoeftes en elke verbruiker se omstandighede lyk anders. Sommige verbuikers tree op as elektrisiteitsverspreiders. Ander verbruikers is eindgebruikers en koop weer elektriese energie vanaf verspreiders. Myne en fabrieke se elektrisiteitsbehoefte lyk anders as byvoorbeeld dié van ‘n huiseienaar op ‘n dorpserf of dié van ‘n boer op ‘n plaas. Elk van hierdie verbruikers koop elektrisiteit en vergoed Eskom direk of indirek teen ‘n prys wat deur ‘n elektrisiteitstarief bepaal word. Die doel van hierdie artikel is om ‘n paar faktore aan die leser uit te wys wat ‘n invloed op elektrisiteitstariewe en dus sy elektrisiteitsrekening het.

Wat ingedagte gehou moet word is dat Eskom die belangrikste opwekker en die primêre verspreider van elektriese energie in Suid-Afrika is. Eskom tariewe is daarom die primêre drywer wat die verbruiker se elektrisiteitsrekening bepaal. Munisipaliteite en ander elektrisiteitsverspreiders koop elektrisiteit van Eskom teen ‘n sekere aankooptarief aan en verkoop dit aan die eindgebruikers teen ‘n verhoogde tarief, wat ook verspreiding, kapitaalonkoste en onderhoudskoste op die verspreidingsnetwerk insluit. Jy moet egter nie verbaas wees as ander onverwante kostes ook ingesluit word nie.

Eskom se tariewe en dus ook jou elektrisiteitsrekening, word in hoofsaak deur twee komponente bepaal.

  • Die eerste komponent is die hoeveelheid energie wat die gebruiker verbruik. Hiervan word die tarief wat op elektriese energie verbuik gebasseer word afgelei en word gedefinieer in terme van kilowatt-uur (kWh). Die tarief word uitgedruk in sent per kWh. Die koste vir die verbuiker wat uit die gebruikstarief voortspruit is ‘n veranderlike koste wat wissel soos wat die gebruiker meer of minder elektriese energie gebruik.
  • Die tweede komponent is die gebruiksvemoë wat aan die gebruiker gebied word en is ‘n kapasiteits gebasseerde tarief. In die algemeen word hierdie kapasiteitstarief gedefinieer in terme van kilovolt-ampere (kVA) maar, of die elektriese energie in enkelfase, dubbelfase of driefase kapasiteit gelewer word, het ook ‘n invloed op die tarief. Hierdie koste vir die verbuiker is ‘n vaste koste wat konstant is vir ‘n tydsperiode. In sommige gevalle word die tarief dan uitgedruk in terme van ‘n dagkoste of ‘n maandkoste vir die verbruiker.

In Eskom se tariefboek word egter ook subfaktore geïdentifiseer wat ‘n invloed op die verbruiks- en kapasiteitstarief het.

  • Die eerste subfaktor is die afstand van die verbruiker vanaf die opwekkingsbron. Eskom definieer vier transmissiesones te wete:
    • minder as 300km,
    • 300km tot 600km,
    • 600km tot 900km en
    • meer 900km vanaf die opwekkingsbron.

Dit maak sin om meer vir elektrisiteit te vra wat verder van die opwekkingsbron is, want hoe langer die transmissielyn is hoe groter is die energieverliese; hoe groter is die aanvangskapitaal vir infrastruktuur wat gefinansier moet word en hoe groter is die onderhoudsrekening van infrastuktuur.

  • Nog ‘n subfaktor wat die gebuiks- en kapasiteitstarief bepaal is die die spanning (gemeet in volt) van die transmissielyne. In Eskom se Tariefboek word vier spanningskategorieë gedefinieer naamlik:
    • kleiner as 500V,
    • 500V tot 66kV,
    • 66kV tot 132kV en
    • groter as 132kV.

Die basis vir hierdie onderskeid is dat ‘n hoër elektriese spanning ‘n kleiner elektriese stroom vir dieselfde drywingskapasiteit tot gevolg het wat kleiner verliese op die transmissielyn tot gevolg het.

  • ‘n Derde subfaktor wat ‘n verskil op die tariewe maak is wanneer die elektrisiteitsenegie benut word. Word die elektriese energie in die Hoë Vraagseisoen (dws Junie tot Augustus) of die Lae Vraagseisoen (dws September tot Mei) benut? Verdere onderskeid word ook nog in sommige gevalle in die twee vraagseisoene getref tussen tye van piekvraag, standaardvraag en dalvraag. Dit is te wagte dat vraag die energie tarief sal beïnvloed aangesien elektrisiteitsinfrastuktuur deur die maksimum vraag bepaal word. Sodoende word gebruikers aangemoedig om eerder, as dit moontlik is, energie in lae vraag periodes te gebruik om sodoende die piekvraag te veminder en vraag meer egalig te maak of te egaliseer.

Afhangende van die gebruiker se omstandighede en aanwending van elektriese energie mag dit wees dat die mees optimale tariefstuktuur nie deur die verbruiker benut word nie. Energiekostes kan betekenisvol verlaag word deur jou elektisiteitstariewe te verstaan en om sinvolle aanpassings te maak.

Ons kan ‘n volgende keer gesels oor wat beteken kWh en kVA.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

2 Comments

  • Munisipaliteite (Pretoria in my gval) gee nie afslag vir lae vraag periodes nie, andersins het ek my swembad pomp definitief verstel om in die winter, eerder deur die aand te laat loop.

  • Deon , baie dankie vir jou pragtige , en tegnies korrekte , Afrikaans.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui