Die belangrikheid van waaiers by ventilasie en verkoeling

Ventilasie en verkoeling is twee begrippe wat nou verwant aan mekaar is en soms beteken die een die ander en omgekeerd.

In die algemeen word onder ventilasie verstaan, die voorsiening van “vars” of koeler lug, waar dit tot verbeterde lewensgehalte kan meehelp.

Uitsuigwaaier

Goeie ventilasie mag ook verkoeling beteken wanneer warm lug in ‘n ruimte deur koeler lug verplaas word ten einde die produkte of vaste stowwe in daardie ruimte af te koel. Deur goeie ventilasie te voorsien kan die produkte van ‘n bakkery vinniger afgekoel word deur die toevoer van koeler lug, byvoorbeeld lug van buite die gebou. Indien waaiers binne die vertrek aangewend sou word sonder die toevoer van koeler lug, word daar nie afgekoel nie. Die warm lug word slegs geroer.

Dit is algemeen bekend dat indien kuikens of hoenders in ‘n hoenderhuis te warm kry, hulle vining asemhaal (pant) om deur verdamping van vog in hulle longe, hulleself met verdampingverkoeling af te koel. Indien die temperatuur van die kuikens te hoog styg, kan hulle vrek. Verder verswak hulle voedselinname wat beteken dat hulle massatoename/produksie afneem wat nadelig vir die produsent is.

Hierdie toestand kan verhoed word deur koel lug aan die hoenderhuis toe te voeg. Die spoed van die lug moet sodanig wees dat die vere van die kuikens geroer word om verdamping vanaf die vel te verbeter. Dit is kenmerkend dat hulle saamkoek in areas waar die ventilasie goed is. Sirkulasiewaaiers is ‘n goeie idee om die lug te roer in plekke waar die lugvloei ontoereikend is.

 

Skematiese voorstelling van ‘n groot hoenderhuis

Dit kan ook gebeur dat melkproduksie negatief geraak word indien koeie aan te hoë temperature blootgestel word tydens tydens die laktasieproses. “Koeiwaaiers” en HVLS- (hoë volume lae spoed) plafonwaaiers (3 tot 7m in deursnee) is ‘n goeie idee om hierdie diere mee af te koel.

‘n Tipiese Koeiwaaier

Soms word die waaiers met waterspuite gekombineer. Die waterdruppels moet nie te klein wees nie want groter druppels is meer doeltreffend om die harekleed binne te dring. Varke se massatoename word ook verhoog indien hulle aan gematigde temperature en goeie ventilasie blootgestel word.

Tydens die ontwerp van plaasmasjiene word ventilasie dikwels gebruik. By oesmasjiene soos stropers word sterk lugstrome gebruik om die korrels en die kaf van mekaar te skei. Netso word by meganies-aangedrewe gifspuite chemikalië toegevoeg tot die lugstroom, om die aktiewe bestanddele oor die oes te sprei.

In pakhuise is goeie ventilasie van groot belang om ‘n verskeidenheid van produkte te beskerm. By die droging van byvoorbeeld uie, help dit om groot volumes lug oor die uie te blaas ten einde die uie vinniger gereed vir die mark te maak. Netso is goeie ventilasie noodsaaklik by die droging van biltong in biltongdroogkaste. Dit verwyder vog om sodoende die produksietye baie te verkort.

In die droëvrugtebedryf word drogingkamers met ingewikkelde verhitting- en ventilasie stelsels gebruik om byvoorbeeld veselperskes te droog. Die lug in die vraghouer word verwarm tot bo 80⁰C en by wyse van kragtige waaiers gesirkuleer. Bykomende waaiers ruil die vogtige lug binne die houer uit met droër lug aan die buitekant.

Aksiale waaier

In enjinkamers en kompressorkamers word addisionele waaiers benodig. Met swak ventilasie kan dit gebeur dat die vertrekke net warmer en warmer word. Indien die enjin sy verbrandinglug vanuit die kamer trek, beteken dit ook dat daar drywingverlies ontstaan as gevolg van die enjin wat nou warm lug met minder suurstof in, moet aansuig.

In industriële ventilasie- en lugreëlingstelsels word van kragtige aksiale waaiers (cased axial fans) gebruik gemaak om die sisteemweerstand te oorkom.

Verkoeling word in ‘n verskeie vertakkings verdeel:

Verkoeling van geslote kringlope word gedoen met behulp van ‘n warmte-ruiler. By ‘n warmte-ruiler is daar gewoonweg twee vloeiers waarvan die een stroom dikwels  omgewingslug is. Die verkoelingpotensiaal van ‘n verkoelingstelsel word bepaal deur die temperature van die twee vloeiers. Indien die warm-vloeier se maksimum toelaatbare temperatuur 100⁰C is en die temperatuur van die omgewingslug is 30⁰C, dan is die verkoelingpotensiaal, 100⁰C – 30⁰C = 70⁰C. Indien die omgewing se temperatuur nou verhoog sou word na 45⁰C, is die  verkoelingpotensiaal 100⁰C – 45⁰C = 55⁰C. Met ‘n hoër verkoelingpotensiaal kan daar duidelik meer warmte verwyder word.

Enjinkoelpak

Koelpakke van spesialisvoertuie wat onder swaardiensomstandighede werk, soos in woestyne, bestaan dikwels uit die volgende komponente: waterverkoeler, tussenverkoeler (om die turbolug af te koel), ratkasoliekoeler, lugreëling-kondensator, oliekoeler vir die hidrouliese stelsel asook ‘n koeler om die kompressorlug mee af te koel. Om die nodige verkoelinglug te voorsien word ‘n baie spesiale waaier benodig om die vloeiweerstand te oorkom.

  • In moderne enjininstallasies is daar dikwels ‘n gebrek aan ruimte tussen die waaier en die enjin, wat beteken dat die verkoelinglug teen die enjinblok en ander komponente vasgeblaas word. Dit beteken ‘n vehoogde weerstand om van die verkoelinglug ontslae te raak.
  • Hierdie beginsels is van toepassing by die verkoeling van die enjins van stropers, trekkers, bakkies, pompstelle, generatorstelle, grondverskuiwers, konstruksiemasjiene, mobiele kompressors, ensomeer.
Mankoeler

Verdamping-verkoeling word op verskeie terreine baie suksesvol aangewend. Die beginsel hier is dat water byvoorbeeld, wat verdamp, veroorsaak verkoeling. Dink maar aan die nat vinger wat gebruik word om vas te stel wat die windrigting is.

  • Verkoeling van persone in baie warm werksomstandighede kan met behulp van “mankoelers” gedoen word. Dit is in beginsel ‘n aksiale waaier wat ‘n lugstroom op die werker blaas. Dit verskaf verdampingverkoeling op die man se vel wat die aanvoelbare temperatuur baie verlaag.
  • Verkoeling van kweekhuise en hoenderhuise kan verbeter word deur waterspuite wat fyn druppels voorsien, op die waaiers te monteer. Hierdie metode kan die lugtemperatuur met tot 8⁰C verlaag.
  • ‘n Koeltoring in ‘n fabriek of by ‘n kragstasie is niks anders as ‘n verdampingverkoeler nie. Die warm proseswater word in die koeltoring met behulp van sproeiers aan ‘n lugstroom, wat deur waaiers veroorsaak word, blootgestel.

    ‘n Koeltoring
  • In die petrochemiese industrie en by sommige kragstasies word reusagtige waaiers van tot 10 m in deursnee vir ventilasie en verkoeling gebruik.
  • Reuse plafonwaaiers van 3m tot 7m in deursnee, ook genoem HVLS-waaiers, word in groot vertrekke, fabrieke, pakhuise, stalle, ensomeer gebruik om lug stadig te beweeg.Die lugstroom wat van bo kom tref die vloer en versprei dan sywaarts om verdampingverkoeling aan mens en dier te verskaf. Die waaiers se spoed kan fyn beheer word wat ook beteken dat die energieverbruik ge-optimeer kan word.

    ‘n Plafonwaaier
  • ‘n Olieverkoelingseenheid (“Air Blast Cooler”)

    Hidrouliese stelsels word dikwels afgekoel met ‘n oliekoeler-kern waardeur lug met behulp van ‘n elektriese motor en waaier gepomp word. Aangesien hierdie elektriese motor sy energie vanaf Eskom moet kry, is dit belangrik om op die energieverbruik van die olieverkoelingseenheid te let. Slim-stelsels gebruik ‘n termiese skakelaar om die motor af te skakel indien die olietemperatuur laer as die ontwerpstemperatuur sou daal.

  • Die spoedbeheer van waaiers word hoofsaaklik om twee redes gedoen, naamlik om energie te bespaar en om geraaspeile te verlaag. Voorbeelde hier is: elektroniese spoedbeheer (VSD) van industriële motors, viskeuse koppelaars (visco clutches) en pneumatiese koppelaars op enjins. Groot energiebesparings kan bewerkstellig word met die oordeelkundige keuse van die spoed van ‘n waaier. In die algemeen geld die reël dat indien ‘n waaier se spoed verdubbel word, gebruik hy 8-keer die energie.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui