Daar is niks nuut onder die son nie

Ek lees die ander dag weer waar Salomo sê daar is niks nuut onder die son nie. Niks wat gebeur, is nuut nie, en wat gedoen is, sal weer gedoen word. In ‘n wêreld vol van tegnologie en kunsmatige intelligensie klink die stelling ‘n bietjie uitgedien. Tog is daar konsepte wat telkens na vore kom asof dit splinternuut is, maar eintlik maar net ‘n reeds bestaande idee is met ‘n nuwe bemarkingsbegroting.

Verstedeliking is ‘n realiteit en deel van elke plattelander wat verhuis se nuwe omgewing is die groter “môl”, groter as die ou dorp s’n, want dié euwel het met die jare na elke uithoek van die aarde versprei. Die oorspronklike idee met groot winkelsentrums was juis gerief. Jy parkeer eenkeer en dan is alles wat jy wil doen onder een dak: kos koop, hare skeer, apteek toe, uiteet en wat nog alles. Ongelukkig het die “een dak” so groot geword dat daar nog ander dakke nodig geword het, en tussen al die dakke het die gerief ook verdwyn. Gelukkig is daar nou deesdae die “strip-môl” waar alles so gerieflik naby is, net om die hoek, en jy kan reg voor die winkel parkeer as jy gelukkig is. Dis net te opmerklik hoe vinnig van die besigheidspersele in ouer woonbuurte skielik weer herleef en besighede weer “doen wat hulle al vantevore gedoen het”, so ons was dus al hier.

Nog ‘n nuwe verskynsel is die sestig soorte motorfietse wat deesdae jou kos en ander kruideniers kom aflewer, en as jy nog nie aanlyn betaal het nie, kan jy op die sypaadjie “têp” en die transaksie is beklink. Maar wag, ek kan onthou my ouma het op ‘n Hoëveldse dorp gewoon. Sy kon nie bestuur nie, wat nie ‘n probleem was nie want hulle het net een motor gehad, en Oupa was ‘n eiendomsagent wat plase verkoop het. Gelukkig het die plaaslike slaghuis, apteek en kruidenierswinkel ‘n afleweringsfiets gehad wat smiddaens jou pakkie kom aflewer het. Jy kon sommer vir William die kontant in ‘n koevert gee, of laat opskryf. Wat vantevore gedoen is, word maar weer gedoen.

Terwyl ons op die Hoëveld is, ek kan ook onthou dat Ouma ‘n erf gehad het waar sy groente en vrugte geplant het wat hulle gesin grootliks selfonderhoudend gemaak het. Die wêreldwye beweging na gesentraliseerde produksie het egter veroorsaak dat byna al ons land se tamaties deesdae uit die noorde aangery word, en die geelwortels van Tarlton af. Die hele debat oor die verspreiding van risiko en diversifisering van genetika woed reeds dekades en ook hierdie pendulum sal uiteindelik terugswaai na beter realiteite. Meer produsente op kleiner skaal en oor ‘n groter geografiese gebied kan steeds die land voed, met aflewerings deur klein swart motorfietse en by die groentewinkels met unieke name by die “strip-môls”.

Maar hier begin ons beweeg na ‘n terrein waar ons dalk nie weer sal kan doen soos vantevore gedoen is nie. Die uitdaging word die nodige kennis en vernuf om volhoubaar voedsel te kan produseer, al is dit op ‘n baie klein skaal. Die gesegde “twintig jaar ondervinding kom eers na twintig jaar” kom hier ter sprake. Vra maar vir enigiemand wat al geboer het, of ‘n grasperk of ‘n roosboom probeer aan die gang hou het. Die kennis en ondervinding van wat werk, hoe jy aanpassings maak, weer probeer, en uiteindelik seëvier, word oor ‘n lang verloop van tyd opgebou, en kan nie net aan en af geskakel word na willekeur nie. Verder het generasies van kennis en ondervinding begin verlore gaan namate verstedeliking plaasvind, en nuwe generasies nie meer die nut daarin sien om die vaardighede instand te hou om selfstandig voedsel, of enige ander boerdery verwante produkte te kan produseer nie. Die poel van kennis verouder en word dermate kleiner.

Selfstandige voedselproduksie is ook nie noodwendig eers nodig nie. Die verbouing van blomme en sierplante het ‘n baie hoë inkomste potensiaal. Met die veranderende wêreld rondom ons, kan dit ‘n nuttige vaardigheid wees om ‘n addisionele inkomste te verdien, of selfs ‘n radikale loopbaanskuif te regverdig.

Die beweging weg van groter winkelsentrums na kleiner geografies verspreide winkels, tesame met die tendens van tuisaflewering bied enorme potensiaal vir entrepreneurs om kleiner plaaslike markte te begin ontgin. Die beginpunt van hierdie waardekettings lê egter by die vermoë om te kan produseer wat die markte vereis, en daarvoor is waardevolle produk kennis en vaardighede van kardinale belang.

Florcom probeer om ‘n beskeie bydrae in hierdie verband te maak deur dekades se waardevolle kennis en ondervinding beskikbaar te stel in die vorm van kursusse, aanlyn forums en ‘n konsultasie platform waar belangstellendes inligting kan bekom en met mekaar deel. Besoek gerus die webwerf www.florcom.co.za en word deel van ‘n groeiende gemeenskap wat kan verseker dat “wat gedoen is, weer gedoen sal word”

Mikro Boerdery Kursus:

Is jy lief vir plante en het groen vingers? Wil jy hierdie belangstelling gebruik om ‘n winsgewende besigheid op jou plot, plaas of groot erf te begin, maar jy is huiwerig want jy het dalk nie die kennis om ‘n sukses daarvan te maak nie?

Hierdie kort maar omvattende kursus is daarop gerig om jou van die kennis te voorsien om groente, blomme of ornamentele plante vir jou plaaslike mark te produseer. Hierdie plaaslike mark kan byvoorbeeld jou omliggende restaurante en bloemistes wees – of moontlik is jy ‘n entrepreneur en kan jou eie mark skep. Met tyd kan jy selfs besluit om uit te brei en op groter skaal aan die markte in die stede te produseer.

Kliek hier om vir die kursus te gaan inskryf.

Vir meer inligting en details oor wat ons lewer, kontak ons asseblief:

082 453 4294
infor@florcom.co.za
www.florcom.co.za

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Henk Vorster
  • Henk Vorster
  • Henk Vorster het ‘n lang loopbaan in internet tegnologie, en tans spesialiseer hy in die bedryf van e-leer platforms. Hy het ook ‘n lewendige belangstelling in landboutegnologie. Tesame met dr. Koos Henning, met meer as 40 jaar se ondervinding in die kweekhuisbedryf, vorm hulle ‘n gedugte span om kennisoordrag te doen in die intensiewe boerdery bedryf

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui