Bekendstelling: Ontwrigtende tegnologie gemik op ‘n VTOL hommeltuig

Beste KragDagvriend – as jy ‘n belangstelling, of beter nog, ‘n passie vir hommeltuie en privaat lugvaart het, spits nou jou ore, of sit jou leesbril op, wat die geval ook mag wees!

Z TEG (Edms) Bpk is ‘n maatskapy wat in 2018 gestig is nadat die skrywer die INVENTOR-sagtewarepakket ter waarde van $15000 van die ingenieurs-sagtewaremaatskappy – Autodesk ontvang het. Dit was toegeken onder hulle “Entrepreneur Impact Program

Die vereistes gestel om vir hierdie toekenning in aanmerking te kom was:

  • Die entrepreneur se idee moes uitvoerbaar wees,
  • dit moes volhoubaarheid (sustainability) bevorder en
  • dit moes ‘n ontwrigtende (disruptive) tegnologie ook wees.

Z TEG se personeel bestaan uit ‘n jong meestersgraad Lugvaart-ingenieur (US), ‘n Bedryfsingenieur (WITS) asook ‘n dromer-idealis. Almal het tot dusver Pro Bono en Ad Hoc aan hierdie projek gewerk.

Ons Visie: Vertikale lugvervoer met volhoubare, skoon en gedesentraliseerde brandstof.

Ons Missie: Om vandag se probleme met beskikbare en skoon tegnologie op te los.

Ons Projek: Ons wil ‘n aandrywings-eenheid, spesifiek vir VerTikale Opstyg & Landing (VTOL) vliegtuie ontwikkel wat met skoon brandstof werk en wat in die lugraam geïntegreer sal wees. Uiteindelik wil ons ‘n “vlieënier-opsionele” vliegtuig bou wat ‘n verskeidenheid dienste aan mense kan lewer.

Z TEG het reeds vele vertroulikheidsooreenkomste aangegaan met spelers (klein en groot) in die industrie wat insluit ontwikkeling, samewerking en befondsing maar, soos te verstane, wil almal eers die konsep, wat ons in gedagte het, sien …

Ons strategie in ‘n neutedop

  1. ‘n Prototipe van ‘n turbine moet gebou word met onderdele wat geredelik vanaf die rak beskikbaar is, ten einde die konsep te demonstreer. Die idee moet “bemark” word om belangstelling te prikkel, ten einde skarebefondsing en/of beleggingskapitaal te verkry.
  2. Identifiseer intervensies wat in ‘n doelgemaakte finale produk geïntegreer sal word.
  3. Bemark ‘n ontwikkelde produk aan vervaardigers, werk aan die integrasie met ‘n lugraam en loods ‘n volgende rondte van kapitaalverkryging.

Ons turbine-konsep

Die konsep behels radiale vloei-turbines en werk met ‘n eenvoudige Brayton-siklus. Die turbine “gooi” lug na buite soos ‘n stofsuier, of soos ‘n swembadpomp wat water met sentrifugale of middelpuntvlietende krag skuif.

Die Brayton-siklus verwys maar net na ‘n tipe ontbranding waar brandstof gedurig na ontbranding gevoer word. Ons kan dink aan ‘n kers wat brand… die was is die brandstof wat hitte- en lig-energie opwek.

Gewone petrol-binnebrandenjins werk op die Otto-siklus, waar brandstof en lug in gemete hoeveelhede herhaaldelik saamgedruk en dan ontsteek word.

In die radiale turbine is die lugvloei loodreg, weg van die turbine-as. Daarteenoor het kommersiële straler-turbines ‘n aksiale vloei – die vloei is parallel met die as van die turbine.

Die voordeel van ‘n radiale vloei-turbine is dat sy plat profiel toelaat dat dit in ‘n vlieënde vlerk gebruik word soos byvoorbeeld die Horton HO 229. Nog belangriker is die vertikale rigting van lugvloei.

Die voorgestelde aandrywings-eenheid, in ‘n hoë verbyvloei-konfigurasie, suig die lug van bo na onder deur die vlerk. Sekere funksionele voordele kan gevolglik uit ‘n breë vlerk verkry wat dit ideaal vir VTOL maak. Dit staan in kontras met ‘n aksiale vloei-turbine wat beter oor ‘n lang lengte soos deur ‘n romp werk.

Hierdie innovasie neig na ‘n baie futuristiese lugraam wat stewig en veilig gebou kan word en wat terselfdertyd ‘n groot volume-ruimte vir vrag en brandstof beskikbaar maak. Dit hou ook vele ander aërodinamiese voordele in.

Volgens ons berekeninge sal die prototipe turbine ‘n statiese dryfkrag van tussen 500N en 1000N vertikaal hê. Dit is gelykstaande aan ‘n dra-massa van ongeveer 50kg tot 100kg. Hierdie hommeltuig, toegerus met ‘n aandrywings-eenheid wat op hierdie beginsel werk, sal dus sementsakke kan aflewer wanneer nodig!

Ons Uitnodiging

Waarom plaas ons hierdie artikel? Wat is daarin vir ons KragDag-gemeenskap?

Ons wil ons lesers uitnooi om reeds vroeg deel te word van ‘n ontdekkingstog en ‘n avontuur.

  • As dit vir jou ‘n passie is en jy wil net deel wees van die tog, is jy baie welkom, ons plaas jou op ons algemene nuusbrieflys.
  • Indien jy oor enige toepaslike vaardighede beskik èn in die passie deel, is jy welkom om met ons te skakel. Ons het mense nodig met vaardighede in onder andere bemarking, besigheidskennis, 3D-tekenwerk, ketelmakerwerk, finansiële dienste, projekbestuur, web-ontwikkeling , lugvaartkennis, eindige element-analise en ontwerp, Autodesk-agtergrond, produkontwikkelingskennis, CAD(computer-aided design), CFD(computational fluid dynamics) asook chemie en brandstof.
  • Waagkapitaal en beleggings

Die konsepfase van hierdie projek word deur die skrywer self gefinansier. As jy graag wil help is jy welkom, maar wees gewaarsku, dit is ‘n baie hoë risiko-belegging so vroeg in die projek. Die beloning kan egter ook ongelooflik groot wees indien sekere inkrementele suksesse behaal word.

Sou jy kleiner bedrae wil skenk sit ons jou op ons eksklusiewe lys sodat jy altyd eerste nuusbriewe, vorderingsverslae en ander eksklusiewe voordele en inligting kan kry.

Laat ons weet of jy wil help en hoe jy betrokke wil raak deur ‘n e-pos te stuur aan Zachrys Joubert by zteglugvaart@gmail.com

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

2 Comments

  • Hierdie is ‘n wonderlikke projek – baie goed beplan en ek sal graag die vooruitgang wil volg en wie weet, miskien kan ek op ‘n manier as afgetrede Plant manager ‘n bydrae lewer…

  • Dankie vir die kompliment, Gerhard. Jy help al klaar baie met jou positiewe en ondersteunende gees! Sal jou solank op die lys sit dat jy op hoogte kan bly van ons doen en late.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui