Afhanklik van ‘n baas? Nie as jy nie wil nie!

Dit was nie uit die staanspoor my plan om ‘n entrepreneur te word nie. Om die waarheid te sê was ‘n eie besigheid nie eintlik iets waaraan ek gedink het nie. My man het nog altyd sy eie ding suksesvol gedoen en ek het hom ondersteun, maar dit was sy visie en sy idees.

My idee van ‘n entrepreneur was iemand wat ‘n besigheid begin, groot finansiële risiko’s neem en dan hoop om op ‘n manier wins te maak met die behoefte wat hy vervul.

As ek geld belê, wil ek weet dat ek dit met rente gaan terugkry. Ek wil definitief nie my swaarverdiende kapitaal wegdobbel op lugkastele nie! Kortom, ‘n laer maar bestendige inkomste in die formele sektor was vir my aantrekliker as ‘n veel groter, maar onseker bron van inkomste as ‘n entrepreneur.

Ek was redelik tevrede met ‘n tradisionele loopbaan as skakelbeampte. Goed, miskien nie doodgelukkig nie, maar ek het daarvoor probeer vergoed met my belangstelling in musiek, kinders grootmaak, ens. Tog het ek gevoel dat ek nie my potensiaal verwesenlik nie, dat ek net tyd opmaak. Daar moes tog seker ‘n beter manier wees om ‘n inkomste te verdien en terselfdertyd as mens te kan groei en ontwikkel?

My broer, wat nog altyd baie meer visie as ek gehad het, het my op ‘n dag gevra of ek al die term “virtual assistant” gehoor het. Dit is ‘n breë term om professionele administrasie, tegniese of kreatiewe werk te beskryf wat oor die internet gedoen word. Ek was nuuskierig en het begin navorsing doen.

‘n Hele wêreld het voor my oopgegaan. Vir die prys van ‘n goeie rekenaar en betroubare internet kon ek dienste lewer vir mense dwarsoor die wêreld!

Toe ek en my man oor die moontlikhede gesels, wou hy weet of ek seker is dat ek ‘n inkomste so sal kan verdien.

“Nee!” wou ek skree. “Ek is te bang ek misluk!”

Tog het my man in my geglo. Toe ek weer sien, het hy vir my ‘n rekenaar gekoop, iets waarvoor ek hom altyd dankbaar sal wees.

Ek het besef dat ek nie sy swaarverdiende geld kan mors nie. Ek moes eenvoudig ‘n sukses daarvan maak!

Ek het elke dag aan my besigheid gewerk. Ek het geleer soveel soos ek kon, en die nuwe kennis dadelik toegepas sodat ek aanhoudend daarop kon voortbou. (Ek doen dit nog steeds). Ek het besluit wat my doelwitte was en hoe ek dit kon bereik. Ek moes besluit watter dienste ek wou lewer en watter nie. Met wie wou ek werk en met wie nie? Hoeveel geld sou ek moes verdien om dit lewensvatbaar te maak? Hoe sou ek myself bemark? Watter stelsels moes ek gereed hê voordat ek kon begin?

Dit was seker die mees vreesaanjaende ding vir my om my eie besigheid te begin. Ek het myself met elke ding wat ek gedoen het bevraagteken. Moes ek dit nie eerder op ‘n ander manier benader het nie? Sal my teikenkliënte verstaan wat ek vir hulle besigheid kon beteken? (Veral as my eie vriende en familie my uitdrukkingloos of verbouereerd aankyk as ek probeer verduidelik?)

So vreesaanjaend soos dit was om te begin, so bevredigend vind ek dit nou. Deesdae is dit nie vir my so moeilik om besluite te neem nie omdat ek nou gemaklik in my entrepreneursruimte beweeg. Dis so lekker om ‘n verskil te maak in my kliënte se lewens en om te sien hoe hulle besighede groei. Dis heerlik om my eie tariewe te bepaal.

Ek dink dat die beste vir my is dat ek kan kies om die werk te doen wat ek geniet. Dit wat ek nie geniet nie, gee ek vir ander mense om vir my te doen of ek verwys my kliënt na iemand uit my aanlyn-netwerk. Ek geniet dit ook nou om ander Suid-Afrikaners te mentor wat in dieselfde bootjie is as wat ek was.

Dis nogal lekker om betaal te word wanneer jou werk soos speel voel!

Ek werk deesdae as ‘n aanlynbesigheidsbestuurder vir kliënte in Europa, Australië en in Amerika. Ek bestuur daagliks die aanlynspanne wat ek vir verskillende kliënte aangestel het. Tog verloop elke dag anders. Soms moet ek ‘n projek aan die gang kry en bestuur, soms outomatisering van take op sagteware doen, of ‘n hele bemarkingsveldtog beplan. Somtyds word ek eenvoudig betaal net om na ‘n besigheidsbestuurder te luister en raad te gee – dis ongelooflik! Ek ontmoet elke dag nuwe mense en dis so interessant om meer van elkeen te leer. Daar is hope uitdagings – maar dit hou die werk interessant. Ek kan my nie meer indink dat ek ooit formele werk verkies het nie – ek het beslis nie geweet wat ek mis nie!

Entrepreneurskap het ons gesin se hele lewensstyl verander. Ons het ons kinders tuisonderrig gegee omdat ons hulle ook wou leer om onafhanklik ‘n bestaan te kan voer.

Vandag bou my dogter webwerwe en doen grafiese werk aanlyn en my seun werk saam met sy pa aan hulle besigheid.

Ons gesinslewe het verbeter, omdat ek daar was as my man of kinders my nodig gehad het, iets waaroor ek altyd skuldig gevoel het terwyl ek voltyds gewerk het.

Ek het tot die geleidelike besef gekom dat entrepreneurskap vir ons ‘n leefstyl is. ‘n Leefstyl wat ons lewenskwaliteit baie verhoog het.

Webadres: virtualproductivitysolutions.co.za

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.67 avg. rating (77% score) - 3 votes

4 Comments

  • Aanlynbesigheidsbestuurder vir oorseese kliënte? far fetched.

    • Hallo Laura – ek kan verstaan dat dit vir iemand wat vanuit die tradisionele werksomgewing kom, verregaande kan klink. As jy ‘n bietjie navorsing doen, sal jy sien dat die aanlynbesigheidsbedryf baie vinnig groei en teen 2020 word daar verwag dat dit ‘n $9 biljoen industrie gaan wees. Virtuele assistente vorm die ruggraat van die aanlynbedryf en die moontlikhede om te groei in hierdie rigting is ongelooflik groot. Omdat dit aanlyn is, word jy nie beperk tot jou landsgrense nie.

      Ek gesels graag met jou hieroor indien jy sou belangstel.

  • Hoe kan ek met u kontak maak?

    • Hallo Elizabeth – as jy my nie deur my webwerf hierbo kan kontak nie, is jy welkom om my te skakel by 083 274 7907.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui