Outomatiseer jou lewe met maklike elektronika
Mikrokontroleerders het die afgelope paar jaar baie gewild geraak onder persone wat daarvan hou om hulle eie elektroniese projekte te bou – selfs vir diegene met baie basiese elektriese kennis en selfs geen kennis in hierdie veld nie.
Die rede hiervoor is tweeledig. Elektronika het oor die laaste paar jaar so verander dat enige iemand met basiese elektriese kennis projekte kan bou in ‘n paar dae wat elektroniese ingenieurs tien jaar gelede, maande sou neem om te bou.
Die tweede rede vir die gewildheid van moderne elektronika bouprojekte is dat jy iets kan bou wat 100% sal voldoen aan jou benodighede. Dit is selde dat ‘n produk in die mark alles kan doen wat benodig word en dan ook onnodige funksies het wat glad nie vir jou doel benodig word nie. Dit jaag gewoonlik kostes onnodig op.
Om moderne elektronika baas te raak is baie makliker as in die ou dae en dit is die hoof rede hoekom so baie mense dit as ‘n nuwe stokperdjie begin. Dit is ‘n stokperdjie wat vinnig kan verander waar projekte gebruik kan word om tyd asook geld te spaar.
Wat kan gebou word met ‘n Arduino (die hoofdeel en brein van nuwe elektronika) is ‘n vraag wat baie opkom in gesprekke. Daar is te veel om te noem maar hier is ‘n paar idees om jou ‘n indruk te gee van wat gedoen kan word:
- Outomatisering: Dit sluit in eenvoudige besproeiingstelsels waar kleppe, motors en selfs dosering van voeding outomaties gedoen kan word. Temperatuurbeheer en vogbeheer is ook baie eenvoudig om te doen. Dit is byvoorbeeld maklik om grondvog te bepaal en sproeiers outomaties aan te sit.
- Monitering van enige denkbare stelsel: Dit sluit enige iets in van watervlakke tot temperatuur. Die data kan selfs gestoor word en grafies getoon word via die internet.
- Afstandbestuur: Dit sluit in die beheer van toerusting via die internet vanaf enige plek in die wêreld.
- Die kombinering van bogenoemde maak kragtige stelsels en dataverkryging moontlik. Tegnologie groei teen ‘n vinnige spoed en met dit kom ook makliker maniere van toepassing soos videoherkenning van mense en baie meer.
Die Arduino mikrobeheerders kan gebruik word om eenvoudige stelsels soos broeikaste te beheer, tot die bou van kragtige CNC masjiene. Die opsies is eindeloos.
Nog ’n projek wat baie voorbeelde demonstreer van wat gedoen kan word, is die nuwe BART robot projek. Die robot kan vanselfsprekend beweeg, maar dit kan ook via Bluetooth beheer word, dit kan geprogrammeer word om verskillende roetes te volg, dit kan ‘n lyn volg, dit het goeie klank wat ook deur ‘n selfoon musiek kan maak en dit is net die begin – die mikrofoon laat jou toe om aan die robot klanke en ander instruksies te gee om sekere goed te doen, stemme en ander klanke kan opgeneem word, ’n distansiesensor vertel die robot hoe vêr hy byvoorbeeld van ‘n muur af is en nog baie meer. Alles met een mikrokontroleerder.
Vir onder R1 500 kan jy begin met Arduino-elektronika wat die hardeware en selfs ‘n kursus kan insluit.
Indien jy hierdie wêreld van elektronika wil verken, is die Elektronika beginnerswerkswinkel met Arduino wat op 5 Oktober aangebied word, net die plek vir jou.