Naspeurbaarheid van rooivleis

Volgens Mnr. Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die RPO, is Suid-Afrika die enigste land in Afrika sonder ‘n behoorlike naspeurbaarheidstelsel. Volgens mnr. Clack sou bek-en-klouseer nie so ‘n groot probleem gewees het indien Suid-Afrika hierdie stelsel in plek gehad het nie.

Naspeurbaarheid is die vermoë om alle inligting rakende ‘n spesifieke produk te kan volg dwarsdeur die lewensiklus van so ‘n produk.

‘n Goeie voorbeeld van naspeurbaarheid is die produksie van sagtevrugte en steenvrugte vir uitvoer vanaf Suid-Afrika na Europese lande. Alle inligting rakende hierdie produkte is naspeurbaar. 

Die voordele van naspeurbaarheid is drieledig:

  • Die oorsprong van die produk is bekend,
  • die kwaliteitskontrole verbeter en
  • daar is ‘n verlaagde risiko vir die gevolge van produkte wat nie aan verbruiker standaarde voldoen nie.

In Suid-Afrika is die naspeurbaarheid van rooivleis nie so eenvoudig nie.  Volgens die Diere Identifikasie Wet moet alle grootvee-eienaars ‘n geregistreerde brandmerk vir hul diere hê.  Net een persoon kan die eienaar van ‘n spesifieke brankmerk wees. 

Verdere metodes van identifikasie wat tot eienaars se beskikking is, is elektroniese oorplaatjies, tatoeëring binne die dier se oor, mikroskyfies en DNS versameling. Al hierdie inligting dra by tot die beskikbaarheid van naspeurbaarheid byvoorbeeld: Waar is die dier gebore, entings, gebruik van antibiotika, dipstowwe, ontwurmingmiddels, aan wie hy verkoop is en wanneer.

‘n Uitstekende voorbeeld van naspeurbaarheid in praktyk is Vleissentraal/SA Stamboek se Elite Vleisbees-stoetkudde van 2019, Rhenosterfontein Beefmasterkudde van Dr. Hendrik Meyer van Naboomspruit.

Rhenostervallei Beefmasters is in 2007 geregistreer en die boerdery word vanaf twee plase bedryf naby Radium en Naboomspruit. As gevolg van die omvang van hulle boerdery maak Rhenostervallei Beefmasters gebruik van DNS versameling om ouerskapbepaling te doen. 

Verder word hoë standaarde behaal met die behulp van genomiese toetsing, groeitoetse en streng seleksie vir bouvorm, vrugbaarheid en groei. Die raaiwerk in stoetteling word hiermee ‘n nekslag toegedien. Deur elke kalf se vaderskap te bepaal, stel dit die boer in staat om die beste, maar ook die slegste bul te identifiseer.

Rhenostervallei produseer hoë gehalte bulle en verse aan die stoet- en kommersiële mark. DNS-versameling stel hulle in staat om bo alle twyfel die vaar en moer van elke kalf te bevestig. 

Hierdie pogings om diere te alle tye te kan identifiseer, is nie net voordelig vir rooivleisproduksie nie, maar speel ‘n belangrike rol in veediefstal, siektebestryding en bio-sekuriteit.

Verbruikers het reeds begin om die herkoms van hulle voedsel te bevraagteken. Daar word al hoe meer gefokus op kwaliteit en waar en onder watter omstandighede voedsel geproduseer word.

Die onlangse uitbraak van bek-en-klouseer is ongelukkig ‘n goeie voorbeeld van laasgenoemde geval. As ons weet waar diere vandaan kom, kan ons enige siekte beter bestry.

Naspeurbaarheid van rooivleis gaan oor die beginsel van waar vleis vandaan kom en waar dit heen gaan. Met die nuutste tegnologie kan baie detail en goeie inligting saam met elke besending vleis beweeg.

Die grootste uitdaging tans is om alle diere in Suid-Afrika te kan identifiseer. Dit is die verantwoordelikheid van elke vee-eienaar.

Vir meer inligting rakende identifikasie van dier kan die volgende skakel gebruik word:

Wet op die Identifikasie van Diere (Wet No. 6 van 2002)

Om te registreer vir ‘n identifikasiemaerk vir diere, volg die volgende skakel:

Registreer ‘n identifikasiemerk vir diere

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Dr. Hendrik Meyer
  • Dr. Hendrik Meyer
  • 082 947 6607

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui