Elektroniese beheer van jou Selfdoenprojekte
Is elektronika vandag nog steeds so moeilik om te verstaan en te gebruik? Die kort antwoord hierop is: “Nee!” Vandag is daar soveel hulpbronne beskikbaar wat enigiemand kan leer om baie vinnig ‘n elektroniese toestel te bou, hetsy analoog of digitaal. Waarskynlik die grootste vooruitgang is op die gebied van mikroverwerkers en mikrobeheerders. So is daar tans baie mikroverwerkers en -beheerders beskikbaar wat maklik gebruik kan word om toepassings te implementeer.
Dit is juis so ‘n mikrobeheerder wat behandel gaan word gedurende die werkswinkel op 9 Desember. Om die verskil tussen ‘n mikrobeheerder en ‘n mikroverwerker te verstaan lees weer die artikel oor Arduino Mikrobeheerders op die KragDag-webjoernaal. Afgesien van verskeie soorte mikrobeheerders is daar ook ‘n verskeidenheid van sensors wat beskikbaar is. So is daar sensors om grondvog te meet waarmee jy jou besproeiingstelsel kan beheer en reguleer vir optimale benatting. ‘n Humiditeit- en temperatuursensor kan ingespan word om temperatuurbeheer toe te pas. Daar is selfs bewegingsensors wat jy kan gebruik om ‘n oppervlak horisontaal te hou.
Benewens al die sensors is daar ook ‘n groot verskeidenheid van uitsettoestelle. Hier dink ek aan elektriese kleppe, motors, relê’s, hoofstroomskakelaars en om nie te praat van die internetgekoppelde eenhede nie. Dit is onder andere moontlik om maklik ‘n toestel te bou wat aan die internet gekoppel is wat ‘n e-pos uitstuur wanneer sekere kondisies en gebeurtenisse plaasgevind het.
Indien ek net vir ‘n oomblik kan stilstaan by besproeiing. Jy kan jou eie stelsel bou wat die volume water meet wat besproei word. Afhangende van die temperatuur kan jy die hoeveelheid kunsmis wat in die water opgelos moet word, bereken. Die kunsmis kan dan onder elektroniese beheer aan die water toegedien word. Daar bestaan ook sensors wat die pH van die water kan meet. Indien die vog in die grond gemeet is, kan bereken word hoeveel water nodig is om die regte vogvlakke te verkry. Indien dit ondertussen gereën het, kan die hoeveelheid reën gemeet word om sodoende die besproeiingsvolume aan te pas. Sou jy enige probleme met die besproeiingstelsel ondervind, kan die stelsel vir jou ‘n e-pos of ‘n sms stuur met ‘n foutboodskap, afhangende van die module wat gebruik word om op die internet te kommunikeer. Dan kan jy ook ‘n toepassing vir ‘n selfoon skryf wat met jou eie elektronika kan kommunikeer.
Vir ‘n ander aanwending kan jy ‘n stelsel bou wat deel is van jou sonkragopwekkingstelsel. Jy kan ‘n beheerder bou wat die sonpanele in die rigting van die son draai en dan die son volg. Die stelsel kan ook gebruik word om die panele weg te draai tydens ‘n haelstorm. As jy windrigting en windspoed met ‘n sensor meet kan die panele ook gedraai word ten einde skade as gevolg van wind te minimeer. Deur die energie wat deur die panele opgewek word te meet kan gesorg word dat energie maksimaal benut word. Sodoende kan elektriese toestelle in- en uitgeskakel word om te verseker dat energie wat opgewek word, maksimaal benut word. Verskillende metings kan met sensors gedoen word en die statistieke van opwekking en verbruik kan op die internet gepubliseer word. Dit is ook moontlik om via die internet sekere elektriese toestelle aan en af te skakel.
Die moontlikhede met hierdie elektronika en beheerders is letterlik eindeloos en dit is werklik nie meer so moeilik om dit te kan doen nie! Die kostes van hierdie module het oor die laaste paar jaar dramaties gedaal. Daar is ook nou verskeie vervaardigers wat tot hierdie veld toegetree het. Gelukkig is die meeste van hierdie modules uitruilbaar met mekaar. Daar is ook geweldig baie inligting op die internet beskikbaar wat jy kan gebruik om jou eie stelsel te bou. Die Arduino mikrobeheerder koppel eenvoudig aan jou rekenaar deur ‘n USB poort. Die taal wat gebruik word om die toestel te programmeer is baie maklik om te leer en te verstaan. Jy hoef dus jy nie ‘n kenner in programmering te wees nie.
Rian Venter (083 627 2792)
As jy lus is om met Arduino te begin speel bied die Arduino Beginnerswerkswinkel (9 Desember 2017), net die regte wegspringgeleentheid. (Jou eerste Arduino is boonop insluit by die werkswinkelfooi.) Dit is ook baie lekker om hierdie kursus saam met jou kinders te doen en daarna projekte saam aan te pak na die kursus.