Doeltreffende verskuifbare veehanteringstoerusting – ‘n moet vir elke plaas

Of jy nou ‘n klein- of ‘n grootboer is, produktiwiteit op die plaas is van kardinale belang omdat dit ‘n direkte invloed op tyd, arbeid en die gevolglike uitgawes het.

Vir ‘n veeboer vergemaklik die gebruik van effektiewe veehanteringstoerusting nie net sy bestuur nie, maar verseker ook dat daar nie net minder stres en beserings vir die diere is nie, maar dit bespaar ook tyd.

Alvorens ‘n effektiewe verskuifbare drukgang geïnstalleer word moet die volgende beginsels oorweeg word:

  • ‘n Produktiewe verskuifbare drukgang moet funksioneel en prakties wees.
  • Panele moet stewig aan die grond geanker wees.
  • Die wydte van die drukgang is belangrik aangesien diere gemaklik moet kan deur beweeg sonder om in staat te wees om binne die gang om te draai.
  • Kantpanele moet maklik oopgemaak kan word indien ‘n dier in die drukgang sou gaan lê.
  • Daar moet genoegsaam afskorthekke wees sodat diere gemaklik kan staan en nie bo-op mekaar bondel nie.

Dit is ook belangrik om op hoogte te wees van nuwe tendense in die praktyk, asook ten opsigte van ontwerpe wat die bewerking van vee soveel moontlik bespoedig en vergemaklik.  Hierdie nuwe tendense sluit  sirkelvormige drukgange in wat die vloei van vee bespoedig.  Die toevoeging van ‘n  sirkulêre indrukkraal verseker dat vee nie die eindpunt van die drukgang kan sien nie sodat hulle sonder onnodige stres in die drukgang kan beweeg.

Vir ‘n verskuifbare drukgang om ongeveer 100 beeste te fasiliteer benodig die boer ongeveer 9 – 12m drukgang spasie om 7 – 9 beeste op ‘n slag gemaklik binne die drukgang in te pas.  ‘n Gemaklike hoogte om oor te werk is 1.5m.  Die omgewing rondom die drukgang moet ook vry wees van enige versperrings waaroor arbeiders moontlik kan struikel.  ‘n Stewige nekklamp verseker dat diere stilstaan wanneer kunsmatige inseminasie, onthoring en dosering uitgevoer word.

As jong seuntjie het Andries van Wyk saam met sy pa geboer.  Hulle het verskeie troppe op verskeie veeplase bestuur.  Dit is hier waar die jong Andries die behoefte vir verskuifbare veehanteringstoerusting geïdentifiseer het.  Een van die belangrikste voordele van verskuifbare veehanteringstoerusting is die tydbesparing in die ondersteuning van siek diere.  Diere kan vinniger behandel word deurdat die verskuifbare stelsel maklik en vining by die trop geplaas kan word.

Uit die aard van Andries se liefde vir staalwerk, het hy genot daaruit geput om sy eie krale te ontwerp en te vervaardig.  Plaaslike boere wat sy plaas besoek het, het groot aanklank by sy ontwerpe gevind en kort voor lank is Van Wyk Veehanteringstoerusting in 2006 geregistreer. Hulle was die borg van die veekrale by KragDag 2019 se Landbou sub-ekspo.

Andries glo daarin om self sy kliënt te besoek ten einde ‘n gesamentlike behoeftebepaling te doen.  Daarna behartig hy ook persoonlik die aflewering en installasies om sodoende ‘n tevrede kliënt te verseker.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui