
Die realiteit van gehoorverlies
GEBORGDE ARTIKEL
Gehoorverlies is ‘n wêreldwye verskynsel wat reeds van geboorte af kan bestaan óf, wat gedurende die verloop van jou lewe kan voorkom – ook genoem verworwe gehoorverlies. Volgens die Wêreld-gesondheidsorganisasie het ongeveer ‘n derde van mense ouer as 65 jaar merkbare gehoorverlies! In Suid-Afrika is daar meer as 3 miljoen volwasse mense met gehoorverlies en hulle daaglikse aktiwiteite en lewenskwaliteit word hierdeur beïnvloed. Dit is daarom belangrik dat elke mens bewus sal wees wat die algemene simptome van gehoorverlies is.
Simptome van gehoorverlies
Wanneer jy of ‘n naasbestaande van jou die volgende simptome ervaar dan is gehoorverlies waarskynlik besig om in te treë en dan moet daar verseker aandag aan gegee word:
- Dit is moeilik om ‘n gesprek te verstaan in die teenwoordigheid van agtergrondsgeraas. Hierdie probleem kan ook ook in ‘n groepsituasie soos byvoorbeeld in ‘n restaurant of in ‘n vergadering ervaar word.
- Daar is ‘n suisgeluid in die ore.
- Dit is dikwels nodig om te vra dat iets wat gesê is, herhaal word.
- Familielede kla dat die persoon die televisie of radio se volume te hard sit.
- Algemene klanke in die huis soos die drup van ‘n kraan, die lui van die voordeurklokkie of die “biep” geluid van die mikrogolf word moeilik gehoor.
- Daar kan gehoor word dat iemand praat, maar die woorde is onduidelik en die boodskap word nie verstaan nie.
- Gesprekke oor die telefoon word moeilik gehoor en gevolg.
- Wanneer die spreker se gesig nie gesien kan word nie, word gesukkel om te hoor. Die persoon raak dus al meer afhanklik van liplees.
Wat is die oorsake van gehoorverlies?
Gehoorverlies het ‘n verskeidenheid oorsake. Wanneer ‘n toestand in een of meer van die drie dele van die oor (dit is die buite-, middel- en binne-oor) veroorsaak dat ‘n persoon nie meer kan hoor nie, lei dit tot gehoorverlies. As die oorsaak van gehoorverlies in die buite- of middeloor is, kan dit gewoonlik deur middel van mediese behandeling opgeklaar word; byvoorbeeld die verwydering van oorwas in die oorkanaal deur ‘n Oor-, Neus- en Keelspesialis, of deur mediese behandeling van ‘n middeloorinfeksie. Hierdie soort gehoorverliese is meestal tydelik van aard en soos die toestand opklaar, keer die persoon se gehoor gewoonlik terug na normaal. Indien die gehoorverlies in die binne-oor is, is die gehoorverlies permanent en word gehoorapparate of koglêere inplanting aanbeveel.
Die mees algemene oorsake van verworwe gehoorverlies by volwassenes is natuurlike veroudering, industriële lawaai of geraas wat deur byvoorbeeld masjienerie veroorsaak word, oorinfeksies of sekere medikasies wat skadelik is vir die gehoororgaan soos byvoorbeeld sekere antibiotika asook medikasies vir die behandeling van malaria en kanker. Ander oorsake is kroniese siekte-toestande soos suikersiekte, hartsiektes en kroniese nierprobleme. Gereelde blootstelling aan harde lawaai tydens ontspannings-aktiwiteite soos die bywoning van konserte en sportgeleenthede, sekere stokperdjies soos houtwerk en selfs die gebruik van persoonlike klanktoestelle dra toenemend by tot gehoorverlies – selfs in jong volwassenes.
Bogenoemde oorsake lei gewoonlik gehoorverlies in beide ore wat met verloop van tyd swakker word. Dit kan egter ook gebeur dat ‘n persoon ‘n skielike gehoorverlies kry wat deur die volgende veroorsaak kan word: trauma aan die kop soos byvoorbeeld ‘n harde stamp, infeksie van die binne-oor of van die gehoorsenuwee, medikasie wat skadelik is vir die gehoor of dalk ‘n gewas aan die gehoorsenuwee. Sou daar ‘n skielike gehoorverlies wees is dit uiters belangrik dat so ‘n persoon so gou moontlik ‘n Oor-, Neus- en Keelspesialis besoek.
Wat is die gevolge van gehoorverlies?
Volgens statistiek ervaar baie volwassenes alreeds gehoorverlies in die tydperk waar hulle nog in die arbeidsmark aktief is en waar hulle ‘n bydrae lewer tot die ekonomie van die land.
Kommunikasie is een van die belangrikste funksies in ons alledaagse lewe – of dit by die huis of die skool is, in die werksomgewing, of ook tydens sosiale en godsdienstige geleenthede. Om te kan kommunikeer is krities belangrik vir elke mens! Gehoorverlies beperk ‘n persoon se vermoë om effektief te kommunikeer in alle situasies. Mettertyd onttrek daardie persoon uit situasies waar kommunikasie nie effektief kan plaasvind nie en gevoelens van frustrasie en alleenheid word ervaar. Volgens navorsing is mense met gehoorverlies ook meer geneig om depressie te ontwikkel.
Sou daar nie aandag aan gehoorverlies gegee word deur die nodige hulp in die vorm van gehoorapparaat verskaffing nie, is daar gevind dat dit ernstige gevolge vir ‘n persoon se gesondheid kan inhou. Navorsing dui daarop dat, indien ‘n persoon ‘n gehoorverlies het wat nie behandel word nie, dit ‘n invloed op breinfunksies kan hê. Persone met gehoorverlies gebruik meer inspanning om te luister en te verstaan wat gesê word. Dit is dus vir hulle uitputtend om te luister. Hierdie uitputting lei weer tot stres en hulle vind dit moeilik om werkstake af te handel. Dit het die gevolg dat hulle meer afwesig is van die werk. Verder is gevind dat hulle ook slaapversteurings kan ervaar.
Nog navorsing het gevind dat bejaarde persone met gehoorverlies wat nie gehoorapparate dra nie, ‘n veel groter kans het om geheueverlies te ontwikkel. Selfs persone wat maar net ‘n geringe gehoorverlies het, is meer geneig om te val en sodoende beserings op te doen.
Ons sien dus dat die gevolge van gehoorverlies wyd strek. In kort – persone met gehoorverlies se lewenskwaliteit word verminder deur die gevolge van gehoorverlies.
Om te kan hoor en luister is ‘n geskenk!
Dit is elke mens se verantwoordelikheid om hierdie geskenk op te pas, te koester en die nodige hulp te verkry indien gehoorverlies vermoed word. Om te kan hoor is om te kan lewe!
Hierdie artikel is geborg deur die Oorinstituut – Queenswood
Webadres: http://www.earinstitute.co.za/
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Goeie inligting, maar daar word nie eintik iets gesê oor wat mens daaraan kan doen nie. Sal heerlik wees om te lees van al die nuwe tegnologie vir bv. telefoon “loop”, bluetooth gehoorstukke, ens.