![](https://kragdag-gemeenskap.co.za/wp-content/uploads/2019/07/calculator-695084__340.png)
Berei jou kind voor vir ‘n nuwe wêreld.
Uber het nie te lank gelede nie begin eksperimenteer met voertuie wat hulself kan bestuur. Daar was ‘n paar ongelukke wat hulle planne ‘n bietjie gekniehalter het. Nie al die motors het gedoen wat dit geprogrammeer was om te doen nie. Ons het steeds bestuurders nodig, ten minste vir nog ‘n rukkie, en terwyl baie van ons geheel en al tevrede is met die gedagte om maar eerder self agter ‘n motor se stuurwiel in te klim en te ry waar ons wil wees, dink ek sal ons ook saamstem dat in sekere gevalle dit dalk ‘n groot verbetering sal wees as motors hulself kan bestuur.
Vandag se motors is elektronies reeds so geïntegreerd dat dit letterlik ‘n spesialis vereis om die goed te diens. Om te dink daar was ‘n tyd, nie so lank gelede nie, wat mense nog hul eie voertuie gediens het! Vandag word almal van ons tot ‘n mindere of meerdere mate geraak deur beheerstelsels: van PLC’s wat groot industriële masjiene beheer, tot ‘n dingetjie wat so klein is as ‘n afstandsbeheer vir ‘n televisie.
Groot grondverskuiwingstoerusting (soos hierdie een in die foto regs) word vandag omtrent geheel en al deur elektroniese stelsels beheer.
Vir baie industrieë is die gebruik van robottoerusting vandag ‘n groot uitkoms. Die masjiene kan lang ure werk sonder rus, hulle het nie arbeidsonrus nie, daar is geen dwelm- en drankmisbruik nie en die lys gaan aan en aan.
Die foto links wys vir ons hoe ‘n groot John Deere trekker aan die binnekant lyk. Die kajuit is vol elektroniese toestelle.
Die punt wat ek wil maak, is dat die boerdery bedryf net soos die meeste ander industrieë ook geraak word deur rekenaartegnologie.
Die groot vraag op die stadium is egter: Hoe goed kan ons in die nuwe tegnologiese wêreld funksioneer, met al hierdie ingewikkelde toerusting wat vir die meeste van ons baie vreemd is?
Dit is hier waar besighede soos Trophy Robotics en inkSMART in die prentjie kom. Terwyl ons nie self met die toerusting werk nie, fokus ons op ontwikkeling van programme om kinders te help om ‘n beter begrip te vorm van wat hierdie wêreld vir hulle inhou.
As ons kyk na die ontwikkeling van die trekker oor die afgelope 3 tot 4 dekades, behoort dit baie maklik te wees om te verstaan waarom dit nodig is vir ons kinders om ten minste in beginsel blootstelling te kry aan megatronika (meganika + elektronika + programmering). Dit beteken in wese dat as ons in die nuwe omgewing wil bly funksioneer moet ons besef dat megatronika/robotika ‘n industrie is net soos wat die motorvervoer ‘n industrie of landbou ‘n industrie is. Daar is mense wat die masjiene ontwikkel en bou; daar is mense wat dit gebruik en daar is mense wat dit in stand hou. Die wêreld is besig om te verander teen ‘n versnelde tempo. Hoe gaan jy óf jou kinders in die wêreld bly funksioneer?
Om kinders van kleins af te leer om ten minste in beginsel ‘n idee te hê van hoe hierdie masjiene werk, maak dit vir hulle baie makliker om regte vakkeuses te maak en om later beroepskeuses te maak. Baie kinders skram weg van natuurwetenskappe, tegnologie en rekenaarprogrammering omdat hulle nie vroegtydig daaraan blootstelling gekry het nie. Hulle het ook nie die selfvertroue om dit te probeer nie. Kom besoek ons by KragDag en vind uit hoe ons kinders kan help om hierdie probleme te oorkom.
Kom besoek Trophy Robotics en inkSMART se stalletjie by die Sakeliga KragDag Ekspo vanaf 8 – 10 Augustus 2019 en kom hoor hoe jy jou kind vir ‘n Nuwe Wêreld kan voorberei.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.