
Begroting: Vier stappe tot sukses
Ter viering van Spaarmaand in Julie, deel Jaco Mostert as dosent in Geïntegreerde Finansiële Beplanning by Akademia vier wenke oor hoe om suksesvol te begroot.
“Persoonlike finansiële beplanning” is drie woorde wat my as ʼn jong man geweldig geïntimideer het, want waar op aarde moet ʼn mens begin? Die antwoord is: “By jou begroting”. Dit is die grondslag van enige finansiële beplanning. Maar wanneer laas het iemand vir jou gesê hoe om ʼn begroting op te stel?
Die belangrikste reël van jou begroting is om minder te spandeer as wat jy verdien. President Eisenhower het gesê dat ʼn plan niks is nie, maar dat beplanning alles is. Hierdie woorde kan ons deur trek na hoe mens jou eie begroting opstel, implementeer en effektief monitor.
Die eerste stap is om te bepaal wat jou vaste kostes vir elke maand is. Vaste kostes verwys na die onveranderlike kostes wat ons elke maand het. Voorbeelde hiervan is huuruitgawes, motorversekering, inkomstebelasting en spaargeld. (Dis reg, ja – spaargeld behoort ʼn vaste koste in jou begroting te wees!)
Die tweede stap is om vas te stel wat die veranderlike kostes in die begroting gaan wees. Veranderlike kostes fluktueer op ʼn maand-tot-maand-basis. Soms sal die koste baie hoog wees, soos byvoorbeeld ons onthaal- en sosiale rekening, of verjaarsdaggeskenke. Later besef mens jy sal moet beter beplan om die maand uit te sien.
Die derde stap is om jou begroting aan die begin van die maand saam te stel. Sodra jou salaris by die bank inbetaal is, moet jou begrotingsjabloon ingevul word. Dit is van kardinale belang om dit so eerlik en akkuraat as moontlik te voltooi.
Die laaste stap is die moeilikste deel van ʼn begroting – dit is waar jy vergelyk wat begroot is vir die maand teenoor wat werklik spandeer is. Die beste is om jou maandelikse bankstaat te trek en langs jou begroting te sit.
Hierdie metode van begroting is ʼn effektiewe manier om jou eie spanderingspatroon te identifiseer. As beginpunt kan die metode op ʼn weeklikse basis gebruik word totdat jy gemaklik met jou werklike weeklikse uitgawes is. Daarna kan dit op ʼn maandelikse basis gedoen word.
Binne die spanderingspatroon kom ons ook gou agter waar ons meer aandag sal moet gee. Moet ek byvoorbeeld my skuld beter bestuur, of sal ek my sosiale rekening moet inperk? Deur beheer te neem van jou uitgawes skep jy beweegruimte in jou begroting, en begin jy werklik met finansiële beplanning. Dus sal jy meer fondse beskikbaar hê om te begin spaar vir behoeftes soos aftrede.
Almal van ons wil graag sukses bereik, maar daarvoor moet mens ʼn doelgerigte padkaart hê. Deel van dié padkaart is om jou finansies reg te bestuur, en hierin is ʼn effektiewe begroting die wegspringplek na finansiële onafhanklikheid.
Meer oor BCom (Finansiële Beplanning)
Die BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie by Akademia bemagtig studente om die beginsels van ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning te verstaan en om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Dit rus studente toe met kennis en vaardighede in die beginsels en praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, verskillende aspekte van sake- en beleggingsbestuur en aanverwante dissiplines. Die student word ook voorberei vir verdere studies in ekonomie of finansiële bestuur. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting oor die BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie.
Meer oor Akademia se onderrigmodel
Akademia se onderrigmodel kombineer afstandsleer met ʼn klas-ervaring. Hierdie model is ideaal vir studente wat werk, aangesien kontaksessies na-uurs aangebied word. Interaktiewe kontaksessies word vanuit die ateljee in Centurion regstreeks uitgesaai na twaalf studiesentrums in Suid-Afrika, en een in Namibië. Hierdie metode van onderrig verbind dosente en studente in ʼn virtuele leerruimte deur die gebruik van gevorderde tegnologie. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting oor die onderrigleermodel.